Jou kind se reis begin hier.
Vroeë kinderontwikkeling is noodsaaklik om ‘n selfversekerde en geesdriftige leerder te word. Kinders met selfvertroue pak elke lewensfase met oorgawe aan. Dis vir ons belangrik dat elke maatjie wat deur ons hekke stap, sal weet hoe dit voel om iets te vermag, sodat hulle nie bang sal wees vir toekomstige uitdagings nie. Ons kleuterskool ontvang maats van 4 maande oud af en ons kleuterskool bied dubbelmedium klasse in Afrikaans en Engels vir babas, peuters, kleuters en Graad R-leerders.
Binne hierdie kreatiewe en stimulerende omgewing word ons kinders se talente aangewakker en gevoed deur onderwysers wat waarlik omgee.
‘n Dag in ons peuterklassie:

Ons is hier!
Goeiemôre! Sawubona! Good morning! Kan nie wag vir vandag nie. Mag ek so ‘n bietjie van my joghurt in jou hare smeer?

Towertapyt
Die towertapyt is ons klas se kaartjie na enige tyd en plek wat jy jou kan indink. Al wat ons moet doen, is om op te klim en te laat waai …

Peuseltyd
Jammer, maar ek kan nie help dis so lekker dat ek my vingers moet aflek nie! Mamma, ‘n kosblik is nie nodig nie, ons eet drie keer ‘n dag by die skool.

Ringtyd
Moenie vra wat ons geleer het nie, vra wat ons gespeel het! My gunsteling: Kop-en-skouers-knieë-en-tone

Ons superhelde
Ons juffrouens het superkragte … ons aan die ander kant werk nog so ‘n bietjie daaraan.

Buite
Juffrou, juffrou, juffrou, maak nou die deur oop, sodat ons kan gaan swaai!

Ons speelgrond
So ‘n groot speelgrond, so baie om te doen, so min tyd. Waar is ons fietsies sodat ons die wêreld kan oorneem?

Morsig maar lekker
Juffrou sê vuilword is goed vir my. Ek kies om haar te glo, want dis so lekker om te mors.

Slaaptyd
Ná ‘n lang dag van speel, speel, speel kan daar mos nie iets lekkerder wees as om jou ogies toe te maak en droomland vir ‘n uur of twee te besoek nie.

Baba- en peuterpersoneel:
Denise Richardson en assistente Dorothy Mathebula en Esther Mputhi
Ons inkorporeer nuwe leervaardighede in ouderdomsgepaste Wiskunde, Wetenskap, Taal en Tegnologie in jou baba en peuter se dagprogram. Hulle leer deur middel van spel. Kuns vorm ‘n basis vir konstruksie, snywerk, fynmotoriese vaardighede en woordeskatuitbreiding, omdat ons lekker gesels tydens hierdie aktiwiteite. Ons beplan teddiebeerpieknieks en leespartytjies – dis net te heerlik.


