Ons heg baie waarde aan ons gemeenskap – binne en buite ons skoolgrens.

Ons gemeenskap van leerders, ouers, onderwysers, kantoorpersoneel, en terreinpersoneel is die hartklop van Orbanskool. Orban se jaarlikse Kenmekaar-piekniek onder die Sterre is ‘n hoogtepunt op ons kalender. Ons vier ons skool en ons mense met ‘n tromsirkel of soortgelyke aktiwiteit wat samehorigheid bevorder, en wonderlike vriendskappe ontstaan op dié manier.

ONS SKOOLKOERANT: The Purple Overview/ Die Pers Oorsig
Orban het in 2021 ons eerste skoolkoerant op die been gebring: The Purple Overview/Die Pers Oorsig. Die redaksie bestaan uit ‘n span verslaggewers, ontwerpers en kunstenaars wat gekies is uit aansoeke in Graad 5, 6 en 7. Die koerant word een tot twee keer ‘n kwartaal uitgebring en hou ons skoolgemeenskap op hoogte van wat in die skool gebeur.
EKO-STENE
Die Graad 7 eko-komitee moedig leerders aan om hulle gebruikte 2 liter-koeldrankbotters as eko-stene met weggooiplastiek te vul. Orban se huisspanne – Pyra, Terra en Hydra – neem teen mekaar deel om te kyk wie die meeste eko-stene kan maak om só ons deel te doen vir ‘n skoner omgewing. 

Wanneer ons ons jaarlikse produksie op die planke bring, word inwoners van Eeufees Ouetehuis genooi om die oggend by Orbanskool deur te bring en die konsert, sowel as ‘n warm maaltyd te geniet.
Ons samel ook gebruikte speelgoed in wat pragtig herstel en gewas is, om aan kinders in trauma te skenk.

 

Grade R
PARK RUN
Ons moedig ‘n gesonde leefstyl aan en nooi daarom almal in die Orban-gemeenskap om in die herfs aan ons park run by Deltapark deel te neem.  

Die Orban-gemeenskap brei elke jaar blokkies vir die maak van komberse. Ons het in 2022 op Vrouedag gebreide komberse aan Safe Haven for Abused Women and Children geskenk en hierdie jaar vir Mandela-dag 67 Blankets ondersteun deur 325 blokkies namens hulle te brei, wat in komberse omskep is.

Johannesburg mini-raad

Ons skool is bevoorreg om die geleentheid te hê om jaarliks twee mini-raadslede te kies wat Orban op die Johannesburg Mini-stadsraad verteenwoordig. Hulle is by verskeie liefdadigheidsprojekte betrokke en ons gemeenskap gee met ‘n oop hand wanneer ons raadslede hulp nodig het. Projekte sluit die insamel van Paaseiers vir minderbevoorregte kinders in, sowel as kombers- en kosinsamelings vir mense in nood.

Ons gee ook om vir die gemeenskap buite ons skool se grense.

Die Orban Pers Harte is ‘n inisiatief binne die skool. Ons identifiseer jaarliks projekte en hou fonds- en ander insamelings hiervoor. Hotel Hope in Melville, wat ‘n stabiele huis vir jong kinders sonder die nodige ouerondersteuning bied, is ons hoof-begunstigde. Randburg SPCA ontvang ook jaarliks troeteldierkos wat ons vir hulle insamel.

Vroeëre projekte sluit in:

  • die insamel van handgemaakte materiaalmaskers vir mediese versorgers by die Rahima Moosa Mother and Child Hospital in Coronationville gedurende Fase 5-grendeltyd.
  • die kombersprojek tesame met BanaBlankets waar ons werklose vroue in Alexadra ondersteun het.